Baie ou mense wat vandag sonder kind of kraai in Zimbabwe woon, kou harde bene. Daar is bitter min hoop, behalwe vir ’n eenvoudige kartondoos met basiese benodigdhede wat sewe keer per jaar by hul voordeur afgelewer word. Jaco Nel het saam met die barmhartige Samaritaan Hannes Botha, wat dié mense al 14 jaar lank ondersteun, na Bulawayo, Gweru en Shurugwi gereis.
Hannes Botha (62) verskaf al 14 jaar lank aan mense soos Jill kospakkies oor Zimbabwe heen.
Hy is die voorsitter van die Zimbabwe Pensioner Support Fund (ZPSF) en het self in Gweru, naby Bulawayo, grootgeword.
Deesdae woon hy in Malelane, Mpumalanga, maar Zim bly sy hart se punt.
Hannes se welsynwerk het begin by een hulpelose ou tannie vir wie hy kos aangery het Gweru toe.
Met elke terugreis was daar nóg hulpkrete onder veral bejaardes wat sonder familielede daar woon.
Vandag help Hannes meer as 1 600 bejaardes oor Zimbabwe heen. Dit sluit 28 ouetehuise in. Hy ry sewe keer per jaar Zimbabwe toe (twee verskillende roetes tussen Bulawayo en Harare) en lewer 650 kartondose vol benodigdhede af.
Binne-in so ’n pakkie kry jy: ’n sakkie meel, ’n koekie seep, ’n 750 ml-bottel sonneblomolie, ’n pakkie pasta, ’n plak sjokolade, ’n rol toiletpapier, ’n fles grondboontjiebotter, drie blikkies kos (ingelegde vis, boeliebief en spaghetti), suiker, tee, sjampoe, ’n bietjie hawermout en ’n pakkie kerse.
In 2009 het die Zim-dollar weens hiperinflasie ineengestort. Hannes onthou dit soos gister. “Veral daardie laaste dae toe mense drie kilometer ver moes toustaan om net ’n brood te kon koop.
“Die inflasie het so mal geraak dat sommige winkels drie keer per dag die pryse op hul rakke moes verander.
“Sommige ouens se huise het amper dieselfde waarde as ’n paar skoene in Suid-Afrika gehad.”
Vandag gebruik sowat 80% van ondernemings in Zimbabwe meestal die Amerikaanse dollar. Dit maak die lewe peperduur. Die Suid-Afrikaanse rand en Botswana se pula word ook aanvaar, maar winkelpryse en veral kleingeld word so afgerond dat mense bitterlik ingedoen word. Geen kredietkaarte word gebruik nie, want die “papierspoor” kan jou onderneming aan staatsamptenare (en bankbase) met lang vingers blootstel.
“ Ryk mense bly ryk, maar arm mense word armer ”
“Ryk mense bly ryk, maar arm mense word armer,” sê Hannes. “Die crazy ekonomiese veranderinge het feitlik die hele middelklas hier uitgewis.”
Sy werk is soms hartverskeurend. “Ek het al dinge gesien in hierdie job,” sê hy. “Die een ou tannie se kinders (in Suid-Afrika) het nooit vir haar kom kuier of haar finansieel ondersteun nie.
“Haar seun het vir my gesê dis omdat sy in Zim bly sit en nie saam met hulle wou wegtrek nie. Hy het gesê: She made her bed and now she must sleep in it . . .
“Die ou tannie is verlede jaar dood. Stoksielalleen.”
Volgens Hannes is mense wat in ouetehuise woon beter af. “Mense wat alleen bly, húlle tjop ernstig af,” sê Hannes strak.
Jill Janse van Vuuren (55) is ’n boorling van die ou Rhodesië wat deesdae in Hillside-Wes, Bulawayo, woon.
Sy was ’n tikster vir die spoorweë, maar toe omstandighede vyf jaar gelede “so ’n bietjie verander het”, het sy op straat beland met haar dogter én kleinseun aan haar sy.
Jill het nie eens gekwalifiseer vir ’n pakket of ’n pensioenfonds nie, want die maatskappy was te arm en sy was nog “te jonk”. Sy het toe probeer om naaldwerk vir ’n lewe te doen, sonder sukses.
Die verf van die piepklein agterkamertjie se grys sementmuur waar die drie van hulle nou woon, het al lelik afgedop. Buite in die onversorgde bedding groei die plante en onkruid welig.
“Ons sit vas hier in Zim, want ons het níks meer oor nie,” sê die witkop-vroutjie voor ons.
Op haar gesig is daar diep gekerfde tekens, plooi-agtige etse van iemand wat al harde myle in haar lewe moes loop, wat weet van swaarkry.
Jill was al vier keer getroud. Drie van haar eksmans is tragies dood, maar haar tweede man het Harare toe “weg-geloop”.
Sy woon nou op haar oorlede suster se erf, waar haar swaer een van twee buitekamers aan haar verhuur (ruweg geskat so vier by vier meter groot).
Langsaan woon Swaer se huiswerker, en dié twee kamertjies deel ’n toilet en ’n stort, buitekant teen ’n gekraakte ou muur.
Vanessa weet nie waar Nathan se pa is nie. Haar oudste seun, William (4), het ’n ander pa wat weier dat sy hom sien omdat sy in sulke haglike omstandighede woon. Nathan se pa ontken vaderskap, maar genetiese toetse kos $500 (R5 719) wat die Van Vuurens nie het nie.
Die vooruitsig van hierdie geldjies gee haar hoop.
“Ons het uiteindelik ons huis verkoop,” sê Jill. “Hulle skuld my nog so $1 000 (R11 438).”
“Ek skuld my swaer nog ’n hele paar maande se huur,” sê sy. “Maar dalk bly daar ietsie oor sodat die drie van ons eendag suid kan trek.”
“ Hannes se welsynwerk het begin by een hulpelose ou tannie vir wie hy kos aangery het Gweru toe. ”
Ruth Hardman (86) woon nog saam met haar seun, Robert (59), in hul eie huis in Bulawayo.
Robert is ’n staatsklerk wat sowat $120 (R1 374) per maand inbring wanneer hy gelukkig is. Sommige maande kry staatsamptenare glad nie eens hul salarisse nie, maar hou aan werk sodat hulle nog iets het om aan vas te klou wanneer die maatskappye hulle wel kan betaal.
Ruth se oorlede man, Bob, was ’n Rhodesiese televisiester wat die tuinmaakprogram Green Fingers in die 1960’s aangebied het.
Vandag het Ruth niks van Bob se roem en rykdom oor nie. Net sy indrukwekkende versameling bonsai-boompies.
Daar is selfs ’n uiters skaars bonsai-kremetartboom waarop sy en Robert baie trots was. Nie eens Hannes self kan onthou hoe lank hy hulle al help nie. “Al vóór die val van die Zim-dollar?” raai hy.
Wanneer Anne van Schalkwyk (72) vrolik by haar huisie uitgetrippel kom, is dit wanneer die Kersfeesagtige betowering van dié welsynwerk in volle werking tree.
Dié brandmaer tannie ontvang haar kartondoos met blink ogies en ’n breë glimlag. ’n Mens kan sien die opregte dank in haar stem tref selfs vir Hannes so hard dat hy aangedaan raak.
“Sonder jou sou ek lankal nie meer kon oorleef nie,” sê sy onvoorwaardelik.